
Dié ballonne help om die chemiese samestelling van die atmosfeer – insluitend besoedelingstowwe – te meet.
Dit kan meetinstrumente tot ver bo die reikafstand van vliegtuie dra om die atmosfeer vanaf die grond tot by daardie andersins ontoeganklike hoogtes te ondersoek.
Volgens dr. Markus Geldenhuys, weervoorspeller by die weerdiens, kan dinge maklik skeefloop met hierdie tipe ballonne.
“Stel jou voor jy vul ’n rubberballon met genoeg helium om ’n instrument van 4 kg met ’n GPS-instrument op te lig. Hierdie ballon styg tot ’n hoogte van 35 km, en tydens die vlug meet hy temperatuur, druk, waterinhoud, metaan, koolstofdioksied en osoon.
“Wanneer dit eindelik bars, voorspel ons waarheen die valskerm sal dryf. Ons bepaal dan op watter boer se grond dit geland het en probeer dit op die betrokke plaas opspoor.”
Dit is nie ’n eenvoudige taak nie.
Nog probleme wat al ondervind is, is skielike windvlae wat ’n ballon laat bars nog voordat dit kon opstyg, en die herwinning van die sensors ná ’n besonder harde landing tydens ’n donderstorm.
Waardevolle inligting
Maar ten spyte hiervan het die eerste vier lanserings reeds waardevolle en presiese inligting verskaf oor die vertikale verspreiding van onder meer waterdamp-, osoon-, koolstofdioksied-, koolstofmonoksied- en metaankonsentrasies.
Die doel van hierdie projek is om data in te samel oor belangrike besoedelingstowwe en kweekhuisgasse in die atmosfeer wat uiters skaars in die Suidelike Halfrond is – veral op hoër hoogtes, sê dr. Johannes Laube, navorser by Jeulich.
“Normaalweg moet ’n mens staatmaak op afstandwaarnemingsinstrumente soos satelliete, maar selfs hierdie gesofistikeerde toerusting vereis onafhanklike verifikasie wat een van hierdie projek se doelwitte is. Die betrokke gasse is van belang aangesien hulle sonenergie op hoë hoogtes kan absorbeer en gevolglik oppervlakweer beïnvloed.”
Die projek bevorder ook navorsers se begrip van atmosferiese prosesse, verskaf data om satellietprodukte te verbeter en help om langtermynweervoorspellings, asook projeksies van toekomstige klimaatsverandering te verbeter.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.