
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die sentrale en oostelike dele van die land, naamlik die oostelike dele van die Noord-Kaap, Noordwes, Vrystaat, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo, kan donderstorms verwag.
Sommige van die storms kan hewig raak en lei tot swaar neerslae, sterk wind wat skade kan aanrig, hael en weerlig. Dit kan oorstromings van paaie en nedersettings, skade aan infrastruktuur asook gevaarlike toestande op paaie tot gevolg hê.
Die weerdiens vra dat mense voorkomend optree om die gevare teë te werk.
Die diens het ’n geel vlak 1-waarskuwing vir Vrydag (23 Desember) vir die noordoostelike dele van die Oos-Kaap uitgereik en ’n geel vlak 2-waarskuwing vir Saterdag (24 Desember) vir die suidoostelike dele van KwaZulu-Natal en die verre oostelike dele van die Oos-Kaap.
’n Bolugtrog, ’n uitbreiding van ’n laagdrukstelsel, sal Vrydag in die weste van die land ontwikkel, ooswaarts beweeg en na verwagting Saterdag sterker word. Die stelsel sal weerpatrone die volgende vyf dae oor die meeste van die sentrale en oostelike dele van die land beïnvloed en lei tot geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie.
Geïsoleerde donderstorms word verwag oor die Oos-Kaap, suidelike Vrystaat en oostelike binneland van die Noord-Kaap, maar verspreide buie in KwaZulu-Natal. Geïsoleerde buie en reën word ook Saterdag aan die suidweskus van die Wes-Kaap verwag weens ’n verbygaande swak koue front.
Op Kersdag sal die bolugtrog oor die sentrale binneland en oor die land beweeg en steeds geïsoleerde buie en donderbuie vir beide Sondag en Maandag bring oor Noordwes, Gauteng, Vrystaat, die oostelike dele van die Oos-Kaap en Mpumalanga. Oor KwaZulu-Natal sal daar verspreide buite wees.
Geïsoleerde buie en reën kan ook Sondag aan die suidelike dele van die Oos-Kaap voorkom, asook die suidkus van die Wes-Kaap, maar dit sal na verwagting Maandag van die weste af gedeeltelik opklaar.
Dit sal van Sondag tot Dinsdag warm en droog bly oor die Noord-Kaap en dié toestande sal die sentrale binneland na verwagting vanaf Maandag en Dinsdag bereik.
Dinsdag word geïsoleerde buie en donderbuie oor KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en dele van Limpopo verwag, asook die oostelike en noordelike dele van Noordwes. Buie en reën word aan die ooskus van die Oos-Kaap verwag.
Die band van geïsoleerde buie en donderbuie sal na verwagting op 28 Desember weer oor die sentrale en oostelike dele van die land beweeg, insluitend Noordwes, Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die oostelike dele van die Oos-Kaap asook die suide van Limpopo. Die toestande sal na verwagting op 29 Desember voortduur.