
Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens se multi-model vooruitsig is die El Niño Suidelike Ossilasie (Enso) tans in ’n La Niña-staat, en sal dit voortduur vir die komende somer. Dié stelsel het gedurende die wintermaande ’n kleiner impak en daarom word daar nie ’n beduidende impak op reënval in die winter verwag nie.
Die voorspelling toon dat bogemiddelde minimum en maksimum temperature vir die grootste deel van die land te wagte kan wees.
Die weerdiens waarsku dat die verwagte ondergemiddelde reënval wat gedurende die wintermaande voorspel word, droogtetoestande in die suidwestelike dele van die land kan vererger, wat veral kommerwekkend is in die Oos-Kaap waar damme reeds op kritiese lae vlakke is.
Die Kougadam, ’n belangrike dam vir landboudoeleindes wat veral water aan sitrusprodusente in die Gamtoosvallei verskaf, staan tans op slegs 16,03%. Dié dam verskaf ook water aan die Nelson Mandelabaai-metro, waar daar reeds afgetel word aan die dae wat water nog vir die stad beskikbaar sal wees.
“Die area sal steeds in die greep van die erge watertekort bly weens die tekort aan reën en die bonormale verdamping.”
Die weerdiens sê die vooruitsigte is ook nie goed vir dele van die Noord- en Wes-Kaap waar droogtetoestande reeds voorkom nie.
“Die suidwestelike dele, wat normaalweg beduidende reënval gedurende die winterseisoen ontvang, kan verwag om meestal ondergemiddelde reënval gedurende dié periode te meet.”
Die weerdiens maan besluitnemers om boere aan te raai om grond en waterbewaring toe te pas, water op te vang en te stoor en ander gepasde landboupraktyke toe te pas.
In teenstelling daarmee kan die bogemiddelde reënval gedurende die lente vloede en meegaande risiko’s oor die dele van KwaZulu-Natal wat vatbaar is vir vloede, veroorsaak. Die provinsie se kusgebiede het vanjaar al reeds ernstige vloedtoestande beleef.
Volgens die weerdiens kan lang termyn voorspellings wel verander en moet die voorspellings wat maandeliks opgedateer word, dopgehou word sowel as die weerdiens se weeklikse voorspellings.