
Netwerk24 het gister berig dat vyf plaaswerkers van Kakamas weens hitte-uitputting oorlede is. ’n Sesde werker is gehospitaliseer. Landbou.com het vroeër hierdie week berig dat die hittegolf moontlik tot môre (Saterdag 21 Januarie) sal voortduur.
Volgens die weerdiens sal dit bewolk langs die provinsie se kus wees en gedeeltelik bewolk in die binneland. Los donderbuie word vanmiddag in die noordoostelike gedeeltes van die provinsie verwag.
Die weerdiens het ’n geel vlak 2-waarskuwing vir ernstige donderstorms met moontlik skade weens wind, hael en erge reënbuie vir die oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap, asook die westelike gedeeltes van KwaZulu-Natal voorspel.
Warm toestande word vir die noorde van Gauteng verwag. Verder voorspel die weerdiens gedeeltelik bewolkte toestande met los buie en donderbuie in die middae.
Gedeeltelik bewolkte en warm tot baie warm toestande met los buie en donderbuie word vanmiddag vir Mpumalanga se Hoëveld voorspel, terwyl uiters warm toestande vir die Laeveld voorspel word.
Die weerdiens voorspel gedeeltelik bewolkte en baie warm toestande met los buie en donderbuie in die suidwestelike gedeeltes van Limpopo, Noordwes en die Vrystaat vanmiddag.
Baie warm toestande word vir die Wes-Kaapse binneland voorspel, terwyl dit koel tot warm en gedeeltelik bewolk in die ooste van die provinsie sal wees. Oggendmis sal teen vanaand van die Weskus na die Suid-Kaap versprei. Die weerdiens voorspel ’n ligte tot matige suidelike tot suidoostelike wind, wat vanmiddag ’n suidwestelike tot westelike wind sal word.
Die Oos-Kaap sal gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met los buie en donderbuie in die verre oostelike gedeelte van die provinsie vanmiddag. Die weerdiens voorspel ’n ligte tot matige suidwestelike wind wat vanmiddag ’n vars oostelike wind sal word.
Gedeeltelik bewolk
Die weerdiens voorspel gedeeltelik bewolkte en warm toestande vir KwaZulu-Natal, behalwe vir die noordelike gedeeltes van die provinsie waar dit baie tot uiters warm sal wees. Verspreide buie en donderbuie word vir vanmiddag vir die suidelike en westelike gedeeltes van die provinsie voorspel met los buie in die noordoostelike gedeeltes van die provinsie.
* Hoe lyk die weer in jou provinsie vandag? Stuur jou weerfoto’s na nuus@landbou.com.