
Groot hoeveelhede tropiese vog het sedert die naweek van Sentraal-Afrika suidwaarts oor Botswana en Namibië na die sentrale en oostelike dele van Suid-Afrika beweeg. Dié vog dra by tot swaar storms en neerslae oor dele van die somerreënstreek.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n vlak 6-waarskuwing oor swaar en aanhoudende reënbuie en donderstorms oor Mpumalanga vanmiddag en vanaand uitgereik. Buitengewone hoeveelhede reën word nie verwag nie, maar omdat aanhoudende reënbuie voorspel word en die bogrond reeds versadig is, kan vloede in laaggeleë gebiede voorkom.
Die weerdiens waarsku veral mense wat naby riviere en strome woon, om bedag te wees. Daar word ook gewaarsku dat damme en damwalle kan breek weens die reën.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê tropiese vog het oor Suid-Afrika begin beweeg in die afwesigheid van sterk tropiese siklone en storms rondom Madagaskar en Mosambiek die afgelope paar weke.
Die reënstelsel het die naweek reeds swaar neerslae oor dele van Suid-Afrika veroorsaak. Dit beweeg ooswaarts oor die oostelike dele van die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Gauteng en die suidelike dele van Limpopo voordat dit na verwagting Woensdag sal opklaar.
Van die swaar neerslae wat die naweek aangeteken was, was sowat 90 mm by Bloemfontein, 70 mm by Stella, 66 mm by Vredefort, 64 mm by Coligny, 63 mm by Pietermaritzburg, 55 mm by Witbank, 47 mm by Hoopstad, 45 mm by Margate, 33 mm by Kuruman en 25 mm by De Aar. Hael het by Prieska, Douglas, Vaalharts en Bloemfontein voorgekom.