
Vanweë die intense koue front wat reeds temperature in die Wes-Kaap laat daal, kan sneeuval Vrydag oor die hooggeleë gedeeltes van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap, asook Saterdag oor KwaZulu-Natal en Lesotho verwag word.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) word sneeuval van 5 cm tot 10 cm vanaf Vrydag oor die hooggeleë gedeeltes van die Wes-Kaap, insluitend die Ceder- en Hexrivierberg, en suidelike hooggeleë gedeeltes van die Noord-Kaap verwag. Sneeuval kan ook op voetheuwels in hierdie gebiede verwag word.
Die sneeu sal die westelike en sentrale hooggeleë gebiede van die Oos-Kaap, veral die Sneeuberge en Winterberge, Vrydagaand bereik. Volgens die SAWD sal sneeuval teen Saterdag oor die suidwestelike en westelike hooggeleë gebiede van KwaZulu-Natal en die Drakensbergstreek voorkom.
Bewolkte, koue en nat weersomstandighede sal Saterdag voortduur langs die suidwestelike, suidelike en suidoostelike kusgebiede en uiteindelik uitbrei tot die oostelike helfte van die Oos-Kaap en die meeste gebiede in KwaZulu-Natal.
Die SAWD waarsku dat noemenswaardige reënval van 20 mm tot 40 mm Saterdag in dele van KwaZulu-Natal en die verre oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap kan voorkom.Koud tot baie koue weer sal Saterdag en Sondag oor die grootste gedeelte van die binneland voorkom. In die noordoostelike gebiede van die Laeveld sal dit Saterdag warm tot baie warm wees.
Volgens die SAWD sal temperature geleidelik vanaf Maandag styg. Aangesien minimum temperature eers ’n aantal dae ná ’n koue front herstel, waarsku die SAWD dat ryp vroeg volgende week in dele van die binneland kan voorkom.