
George, wat vandeesweek reeds deur ernstige vloede getref is, is een van die dorpe in die Wes-Kaap waar skadeveroorsakende wind van môre tot Saterdag verwag word.
Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens word wind wat skade kan veroorsaak, in die distrikte Beaufort-Wes, Bitou, George, die Hantam, Hessequa, Kannaland, Karoo Hoogland, Khai-Ma, Knysna, Laingsburg, Oudtshoorn, Bitou en Prins Albert verwag.
Die wind word veroorsaak deur ’n intense weerstelsel wat oor die land gaan beweeg. Die wind sal wissel van sterk tot stormsterkte suidoostewinde van 70 km/h tot 80-100 km/h tussen Saldanha- en Plettenbergbaai vanaf Donderdag tot Saterdag.
Sterk tot stormsterkte noordoostewinde sal oor die binneland waai en onder meer die oostelike Namakwa-distrik affekteer. Dié wind sal teen Vrydag na die Tuinroete versprei. Saterdag sal noordoostewind sterk tot byna stormsterk langs die Noord-Kaapse kus waai.
Die weerdiens waarsku dat die wind geboue, bome en kragdrade kan omwaai. Klein bote word aangeraai om die oop see te vermy.