
Die Suid-Afrikaanse weerdiens het luidens kennisgewings gesê hoë temperature wat ongemaklike toestande kan veroorsaak gaan môre oor die Weskus voorkom. Temperature kan so hoog as 40 °C bereik.
“In weersomstandighede waar temperature so hoog is, verminder die menslike liggaam se vermoë om homself deur sweet af te koel. Mense moet bedag wees op ernstige gesondheidsprobleme wat kan volg soos hipertermie en erge hitte-uitputting.”
Die weerdiens het ook ’n vlak-2-waarskuwing uitgereik vir die komende naweek.
Yellow level 2 warning: Wind and waves: Western Cape: 10 - 11 December 2022 pic.twitter.com/drEeLphC1L
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) December 7, 2022
’n Sterk suidoosterwind met ’n windsterkte van tussen 60-70km/h word Saterdag en Sondag vanaf Saldanha tot by Kaap Alguhas verwag. Golwe kan tot 4m hoog wees wat onstuimige seetoestande kan veroorsaak.
Die weerdiens waarsku dat dele van Namakwaland sowel as die sentraal en oostelike gedeeltes van die Wes-Kaap asook dele van die Overberg-distrik hewige donderstorms kan ondervind van Saterdagmiddag af.
Hael en sterk rukwinde kan ook verwag word.
Die donderstorms kan swaar reën – tussen 10-20mm binne ’n kort periode veroorsaak, wat plek-plek tot oorstromings kan lei.
Die weerdiens waarsku motoriste om veral op grondpaaie versigtig te wees met die moontlikheid van oorstromings.