
Nog koue fronte gaan vandeesweek oor Suid-Afrika beweeg, met skerp dalings in temperatuur wat van vandag af oor die sentrale en suidelike dele van die land verwag word. Ligte ryp is môre moontlik op plekke soos Prieska, Bloemfontein, Aliwal-Noord, Fauresmith, Kokstad en verder suid in die binneland. Daar is selfs ’n moontlikheid van ligte sneeu oor die suidelike en suidoostelike dele van die Drakensberge en aangrensende dele vandag en môre, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Verdere koue fronte kan nog voorkom rondom 11 tot 14 September, 22 en 23 September asook rondom 27 tot 29 September. Hoewel dit tans lyk asof hierdie stelsels nie baie sterk is nie, kan dit in die komende weke ontwikkel en sterker wees as wat voorspellings tans aandui, sê Van den Berg. “Die risiko vir ryp- en koueskade word minder, veral verder noordwaarts, maar ryp is steeds moontlik in September en selfs begin Oktober in die Vrystaat, die suidelike dele van die Noord-Kaap en die sentrale tot noordelike dele van die Oos-Kaap.
Die koue fronte kan ook later in September tot ligte ryp oor dele aanleiding gee.
Baie warm toestande met temperature van 30 °C tot 36 °C gaan na verwagting voorkom vanaf ongeveer 10 September oor die sentrale tot noordelike dele van die Noord-Kaap, asook die noordelike en noordwestelike dele van Limpopo en die Laeveld.
Temperatuurskommelings nie ongewoon
Die lente is ’n oorgangsperiode tussen die winter en die somer. Derhalwe is temperatuurskommelings in hierdie tyd van die jaar nie ongewoon nie. Die lente is ook die tyd wanneer plante begin bot en wintergrane begin om groeipunte bo die grond uit te stoot. Dit is dus ook die periode waar baie koueskade kan voorkom aangesien plante in ’n baie kwesbare stadium is.
“Temperatuurverskille tussen dag en nag begin vergroot en groot temperatuurskommelings vind ook plaas tussen dae of weke,” verduidelik Van den Berg. “Die temperatuurskommelings is te wyte aan koue fronte wat vinnig oor die land beweeg en dan word dit daarna weer baie warm omdat die son reeds heelwat meer energie op die aarde se oppervlakte laat neerkom in die Suidelike Halfrond.”
Reën
Die koue front wat van Saterdag 4 September oor Suid-Afrika inbeweeg het, het reën veroorsaak oor dele van die winterreëngebied. Dit is besig om op te klaar en noord langs die kusgebiede op te beweeg. “Redelike swaar neerslae kan langs die Oos-Kaap se noordelike kusgebiede, KwaZulu-Natal se kusgebiede, die aangrensende binneland van KwaZulu-Natal en die noordelike dele van die Oos-Kaapse binneland voorkom, met tot 40 mm of meer wat in dele kan val. Ligte reën is ook moontlik oor die Hoëveld van Mpumalanga tot 9 September.”
Volgens Van den Berg is verdere reën vir die winterreënstreek moontlik tot einde September met ten minste nog drie koue fronte wat oor Suid-Afrika gaan beweeg. Ligter neerslae word verwag oor die Suidwes-Kaap, maar meer na die gebiede van die Suid-Kaap en Ooskus.
Vanaf 11 tot 14 September kan van 5 mm tot 10 mm oor die Swartland en aangrensende dele van die Kaapse metropool en wynland voorkom. Van 20 mm tot 30 mm kan oor die Rûens en dele van die Suid-Kaap voorkom. Dit kan noordwaarts oor die Tuinroete, die Oos- en Noordkus ontwikkel tot ongeveer 16 September. Van 12 tot 16 September kan reën oor dele van die binneland van KwaZulu-Natal voorkom.
Van den Berg sê hierdie verskuiwing van die reënvalpatroon is tipies van die lente, waar die meeste reën nie meer oor die winterreëngebied voorkom nie, maar meer langs die Oos- en Noordkus en al hoe meer binnelands van hierdie gebiede begin neig. Dit is ’n goeie voorteken dat meer normale reënvalpatrone ook later in die seisoen kan volg.
Winderige toestande
Met die erge brande wat die afgelope naweek oor dele van die Vrystaat en Noord-Kaap voorgekom het, waarsku Van den Berg dat baie sterk winde die verwagte komende koue fronte ook kan vooruitgaan.
“Dit is veral in die tyd 10 tot 11 September, 20 tot 22 September asook 25 tot 27 September wanneer baie sterk noorde- tot noordwestewinde gevaarlike toestande vir veldbrande kan skep. Verder begin daar al hoe meer donderweer ontwikkel met die begin van die reënseisoen en kan veldbrande ook ontstaan as gevolg van weerlig.”