
Soveel reën het al sedert die begin van die somerreënseisoen geval dat die landerye in panne of strome water omskep is. Boere kan nie met stropers of planters inkom om koring te stroop of om sonneblom te plant nie. Sonskynweer is nou dringend nodig om die mielie-oeste wat nog op die lande oor is, te probeer red.
In die distrikte Bultfontein, Hertzogville, Hoopstad en Bothaville is daar boere wat tot 70% van hul mielie-oeste verloor het, sê voorsitters van die distrikte se boereverenigings. In die droër dele van die distrikte lyk dit beter en sommige boere kan selfs vanjaar ’n mooi oes stroop, mits daar nie verdere groot reën kom nie.
Vooruitsigte lyk regtig nie goed vir saaiboere op die watertafelgronde nie, sê mnr. Jakkals le Roux, Vrystaat Landbou se streeksverteenwoordiger van Vrystaat Landbou vir Wesselsbron, Bothaville en Nala. “Ons het al sedert die begin van die seisoen moeilikheid en hier is baie versuipskade. Die watertafellande se profiel is vol. As ek rofweg moet skat, sou ek sê daar is 270 000 ha wat skade gekry het.”
Hy wys daarop dat ’n baie nat November en Desember voorafgegaan is deur goeie reën in die vorige seisoen se nasomer. “Ons staan reeds op 375 mm vir die seisoen. Daar is baie skade aan die lande in die westelike dele van Bothaville wat aan Wesselsbron grens. Hulle het die afgelope week weer 80 mm tot 100 mm gehad. Die mielies wat tot nog toe mooi was, het nou skade.”
Koring loop weer uit
Hy bereken dat daar op die plase rondom hom in die distrik Wesselsbron 600 ha tot 800 ha koring is wat nog nie gestroop is nie omdat boere nie in die lande kan inkom nie. Ook by Bultfontein is daar honderde hektaar koring wat nie gestroop kan word nie, omdat selfs stropers met rusperwiele vasval, sê mnr. André Janse van Rensburg, streeksverteenwoordiger van Vrystaat Landbou in dié gebied. “Die probleem is met die reën wat so aanmekaar val, loop die are weer uit. Daardie koring is nou voergraad op sy beste.”
Van Rensburg boer tussen Bultfontein en Hertzogville. Hy het verlede Donderdag (13 Januarie) 50 mm reën gehad en oor die naweek ‘n verdere 15 mm. Hy sê dis baie nat en die lande spoel op die oomblik. Hoopstad se kant toe lyk dit selfs erger.
“Dis te laat om mielies oor te plant. Die ouens begin uitploeg om nou maar te probeer sonneblom plant. Maar dis so nat hulle kan nie in die lande inkom nie. Ons gaan ’n week of twee sonskyn moet hê voor ons weer iets in die lande kan insit.”
Die ander probleem, sê Janse van Rensburg, is dat die nat lande dit baie moeilik maak om die jong mielies wat nou so kniehoogte tot heuphoogte staan, blaarvoeding te gee of te bespuit teen onkruid. “Die boere moet nou vliegtuie inspan, wat astronomiese koste meebring. Doen jy dit nie, is die R6 000 tot R8 000 per hektaar wat jy nou al klaar in die grond gesit het, verniet bestee.”
Die veeboere is egter baie dankbaar vir die goeie reën, want die veld lyk ongelooflik mooi, sê Janse Van Rensburg. “Die kolle by Hertzogville en Brandfort wat so lelik gebrand het, het baie mooi herstel. Ons is baie dankbaar daarvoor.”
Natste Desember op rekord
Mnr. Gerhard Cronjé van die plaas Grootkuil in die Sommerville-distrik aan die oostekant van Bultfontein sê sy voorgeslagte hou al sedert 1911 boek van die reënval op die plaas. Volgens hul rekords is dit by verre die natste Desember wat hulle nog beleef het. “Ons is dankbaar vir wat ons gekry het. Vir Desember het ons 305 mm gemeet. Voor dit was die rekord vir Desember 238 mm wat in 2001 geval het. Behalwe vir hierdie twee uitskieters was daar nie ’n Desember waarin ons meer as 200 mm gehad het nie.”
Hy sê hoewel daar net sowat 5% of minder van sy oes is wat totaal versuip het, het van sy bure na raming skade aan tot 30% van hul oes gehad. “Dis ’n moeilike jaar. Selfs mielies wat nie totaal versuip het nie, lewer swakker opbrengste weens kunsmis wat geloog het. Verskeie boere in ons distrik kon ook nie alles plant wat hulle wou voor die reën nie en toe het dit wat geplant is, nog versuip ook.”
In die distrik Hoopstad is daar ook dele wat groot skade gely het, sê mnr. Jacques van Zyl, voorsitter van die plaaslike boerevereniging. “Van Hoopstad af Bothaville se kant toe is dit chaos en selfs tussen Hoopstad en Bultfontein is daar stukke wat groot moeilikheid met versuipskade het.”
Hy self het oor die naweek 40 mm reën gehad nadat dit verlede Donderdag reeds kwaai gereën het. Hy het op een spesifieke deel van sy plaas 65 mm gemeet. “Dit kom ná ’n papnat Desember van amper 300 mm, terwyl ons gemiddelde reënval maar 450 mm per jaar is. Dit is dus op ’n profiel wat reeds papnat is. Ons mielies kan eenvoudig nie so baie water hanteer nie.